top of page

Mamma, lees asb vir my ‘n storie?

Eendag lank lank gelede…


Met ‘n baba op my skoot, en twee kleuters langs my sye, een aan elke kant sit ons die bed vol. Met groot afwagting sit hulle grootoog vir my en kyk en wag, want dis storie-tyd!


Met 3 verskillende ouderdomme is storie-tyd nogals ‘n uitdaging.


Ek trek eers die Bybel nader. As boetie die Bybel sien dan sê hy:” Pappa.” Pappa lees gewoonlik Bybel met aandgodsdiens, maar vanaand is Pappa op huisbesoek.


Ons gaan vanaand uit Handelinge lees, sê ek. Dadelik begin sussie sing… Matteüs, Markus, Lukas, Johannes, Handelinge en Romeine….


Mooi sus, so in watter testament is Handelinge? Die Nuwe Testament roep sy!!


Ons lees van Paulus en sussa lyk of sy darem redelik luister, ek vra bietjie vragies soos ons lees en sy volg darem al beter. 2 jarige boetie aan die anderkant, is op sy eie missie.. maar ek weet dit sal ook beter raak.


Ons is klaar.. “ek wil bid, mamma!” Okay sus. “God ons Vader, dankie dat ek kan skool toe gaan, dankie dat ons kan speel, dankie vir baba boetie en laat Pappa veilig huis toe kom. Amen. “Amen” beaam boeta, terwyl ek gedink het hy luister glad nie…


Ons sing twee Psalms en dan wip hulle op en af van opgewondenheid, want nou kan elkeen hul eie storieboek kies.


Ousus wil eers vir die baba lees. So dis waar ons begin. (Sy kan nog nie lees nie) maar sy sit met die groot prenteboek en wys-en-vertel vir die twee boeties al die diere. Baba sit so stil, dit lyk of hy luister. 2 jarige sê elke tweede woord agter sussie aan en wys gretig as hy ‘n prentjie ken! Hy probeer om blaai, maar sus is nog besig. Dis maar ‘n gestry tussendeur en partykeer sak my moed in my skoene as ek moet skeidsregter wees.


Dan besluit boeta dis nou sy beurt. “Baba klaa’ sê hy. Hy gryp sy gunsteling boek: “Waar is my mamma” . Op elke bladsy vra die eendjie vir verskillende diere, is jy my mamma? Dan skree boetie: “ NEE!!! Dis ‘n koei !! Moeeee!!” Totdat ons op die laaste bladsy die mamma eend kry. Boetie glimlag en sê “baba…mamma…terwyl hy met sy vingertjie wys.


Tussendeur vra sussie 10 keer of ons nou klaar is en wanneer is dit haar beurt… ek sug en verduidelik dat boetie se storie amper klaar is. Ek sukkel maar om geduldig te bly terwyl sussie ongeduldig sit en vroetel en kla.


Ek gee dan vir boetie sy melkies sodat hy kan rustig raak terwyl ek vir sussie lees.


Sussie word amper 5, so ons lees al ‘n langer storie waar ons ‘n hoofstuk per aand lees. Sy geniet elke oomblik en luister aandagtig. Tussendeur raas sy met boetie as hy haar boek probeer vat of omblaai. (Ek hoor myself as sy so met haar boetie raas of vir hom preek, dit laat my soms twee keer dink, as ek so eerstehands sien hoe my gedrag haar vorm).


(Hier wil ek ook noem dat dit een van my en sussa se lekkerste saam doen aktiwiteite is, een maal ‘n maand gaan ons saam biblioteek toe. Ons kies vir haar boekies om uit te neem. Sy leer om boeke mooi te hanteer en op te pas, sy leer stiptelikheid as ons die boeke betyds terug vat anders betaal ons ‘n boete, sy leer dat daar ‘n klomp verskillende soorte boeke en afdelings is en nog soveel meer. En boonop is dit heeltemal gratis!!!! My ma was ‘n biblioteek juffrou en ek was in my element tussen al die boekrakke vol stories.)


Dan is dit slaaptyd en sit ek die lig af. Na ‘n klomp soene en drukkies oor en weer, raak hulle aan die slaap.


Terwyl ek in die donker sit en luister na die asemhaling wat al hoe dieper raak… dink ek aan my Mamma.


Die grootste geskenk en die spesiaalste tyd elke aand was storie-tyd. Kwaliteit tyd saam met Mamma. Die onverdeelde aandag. Die rustigheid voor slaaptyd. Die wonderlikste avonture wat ons saam beleef. Die liefde vir lees wat dit by my gekweek het.


En dan nog al die ander voordele van lees soos beskryf in ń artikel op Edublox se webwerf: Ses redes waarom lees belangrik is (11 Nov 2015, www.edubloxsa.co.za)


  • Lees bou woordeskat

  • Lees verbeter konsentrasie en help ons om te ontspan

  • Lesers spel beter

  • Lees kan ook ‘n sosiale aktiwiteit wees

  • Woorde is boustene-selfs in tegnologie

  • Lees is die sleutel tot opvoeding, opleiding en ‘n kwaliteit lewe

Selfs as volwassenes kan ons as ‘n gesin rustig tyd saam spandeer elkeen met sy eie boek, dalk langs die see terwyl ons met vakansie is of sommer net rustig op die stoep met ‘n koppie koffie in die hand. Die samesyn, die vrede en rustigheid herlaai my gemoed.


Vandat ek kinders het, is die rustigheid maar skaars. Maar dan vind ek weer my lees-en-ontspan-tyd terwyl ek my baba voed… ek ontsnap vir ‘n halfuur in my boek en dit gee my krag vir die volgende paar ure.


Nadat hulle in die aand almal slaap, is my boek ook my manier van afskakel. Ek geniet dit om weggevoer te word en vir ‘n oomblik in ‘n vêr land op ‘n wonderlike reis te wees.


Dis genoeg om te herlaai vir die besige dag wat voorlê. Dis genoeg om my brein te laat afsluit.


Laastens wil ons tog graag hê ons kinders moet eendag self wil Bybel lees. Maar as hul nie eers van lees hou nie, hoekom sal hul wil Bybel lees. Dis partykeer nie so maklike storie om te volg nie, dit hou nie noodwendig jou konsentrasie nie, dit is selfs partykeer nie lekker om die Waarheid te lees en ons sondige natuur te besef nie.


Daarom probeer ek by my kinders ‘n liefde kweek vir lees. Soos my Ma vir my gedoen het. Partymaal luister hulle glad nie, partykeer baklei en stry hul heeltyd tussen deur, partykeer vorder ons skaars omdat hul ‘n duisend vrae het ( wat ook deel is van leer en ontwikkel), maar ek glo die roetine en saam wees van aandgodsdiens en storie-tyd is ‘n moet! (En stilletjies geniet ek dit eintlik om al die stories van my kinderjare weer te lees)


Sodat hulle eendag die maklike, lekker, ontspanne voordele daarvan sal trek. Sodat dit hulle akademiese loopbaan sal vergemaklik, om hulle te help met kommunikasie en ook sodat hulle die Woord van God sal kan lees en daardeur hul Skepper sal ken.


Dankie Mamma, vir Mamma se tyd en aandag om my lief te maak vir lees!! Om ‘n boekwurm te wees is van onskatbare waarde..!


Ons gaan vir die volgende paar weke bietjie fokus op lees. Hou gerus ons blog dop vir meer inligting oor voorlees, beginner leesboekies, hoe om ń liefde vir lees te kweek en leesgoed vir mamma.


lewer kommetar
bottom of page