top of page

Suikervrye September

Nou die dag sit ek en Karyna en gesels en beplan, ons dink aan onderwerpe waaroor ons hier op HuisVolHart kan skryf. Partykeer skryf ons sommer so direk uit die hart uit as iets of iemand in ons daaglikse omstandighede ons daartoe lei. Maar ons kies ook soms onderwerpe wat ons voel belangrik is of aandag moet kry in ‘n huisgesin of mamma se lewe.


Sy noem toe dat ons in September dalk moet skryf oor oefen en gesond eet… dadelik val my moed in my skoene, want hierdie is nie ‘n onderwerp wat vir my natuurlik kom of waaroor ek uit ondervinding kan skryf nie… inteendeel!


Die wat my ken sal weet dat oefen nie vir my belangrik is nie. En met my man se medewete gooi ek hom sommer saam met my onder die spreekwoordelike bus want om te oefen is nie hoog op die prioriteitslys in ons huis nie.


Oefen en gesond eet is vir my ‘n groot uitdaging. Op skool was ek baie lief vir sport, maar sonder die dissipline van saam met ‘n span elke dag oefen, sukkel ek om gereeld te oefen. Met 3 klein kindertjies is dit vir my nog meer van ‘n uitdaging.


Ek weet oefen is belangrik, ek weet gesond eet is belangrik. Maar steeds sukkel ek om dit ‘n prioriteit te maak.


My verskonings

  • In hierdie fase van my lewe is daar nie tyd vir oefen nie

  • Ek is heeltyd honger omdat ek borsvoed

  • Gym is te duur

  • Ek sal volgende week begin…

  • Net nog een sjokolade…

Ek is ‘n emosionele eter. Ek hou van eet, kos is nie net iets wat noodsaaklik is nie, dis lekker! En dit laat my beter voel…


Baie keer as ek bietjie af voel, laat soetgoed my dadelik beter voel… maar sodra ek dit klaar geëet het, voel ek fisies nie lekker nie. Ek voel ook skuldig en sommer weer meer terneergedruk. Dit is dus ‘n onmiddelike kruk, maar op die langtermyn maak dit eintlik my emosionele welstand slegter .


Soos die spreekwoord sê: “ ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.”

Alhoewel ek dit besef, sukkel ek steeds om vir myself nee te sê.


“Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,” ‭‭Titus‬ ‭2:12‬ ‭AFR83‬‬

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”‭‭ Galasiërs‬ ‭5:22-23‬ ‭AFR83‬‬

'n Gebrek aan selfbeheersing, selfdissipline, selfverloëning is in die hart van ons sondige natuur, dit is weens hierdie gebreke dat ons nie in liefde vir God, sy gebooie nakom nie so leer die Here ons in 1 Johannes 5: 3 Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam.


'n Verwronge sin van self liefde maak dat ons geneig is om te doen wat vir ons gemaklik en gerieflik is. Maar in ware liefde vir God leef ons in gehoorsaamheid aan sy Woord, dan kan ons uit Sy genade elkeen van die gebooie onderhou. Dan kan ons met selfbeheersing die 6de gebod nakom soos ons Here Jesus dit vir ons voorhou, deur nie bloot net nie die lewe van ander te neem nie, maar uit liefde vir God die lewe van alle mense te respekteer en ag. Om die lewe en gesondheid van ander en onsself te wil bevorder. Selfbeheersing om die lewe wat die Here gegee het so hoog te ag dat ons alles in ons vermoë wil doen om gesond te lewe.


Ons almal sukkel om teen ons sondige natuur te veg. En elkeen sukkel met ander aspekte. Maar selfbeheersing met oefen en gesond eet is definitief bo aan my lysie van sondes…


Daarom het ek besluit om myself uit te daag…hier saam met elkeen wat hierdie stuk lees… (hopelik kan julle my motivering wees, of my aanspreeklik hou of my dalk net ondersteun as jul my iewers raakloop) of doen die uitdaging saam met my…


Wat gaan ek probeer doen

  • Suikerlose September

  • 20 minute oefeninge elke dag (tussen die kinders, huistake en werk deur)


Kliek hier om te sien hoe ons dit doen.


Ek hou julle op hoogte van hoe dit met my uitdaging gaan ….


Liefde, Innecke



“En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.”

‭‭2 PETRUS‬ ‭1:5-7‬ ‭AFR83‬‬


Opdatering: na 1 week het ek 2.7kg en 6cm verloor!!!





lewer kommetar
bottom of page