top of page

Net 15 minute…

Half 6 lui my wekker… ek spring op om dit dood te druk voordat die hele familie wakker word.

In die donker soek ek my japon en my pantoffels. Dan sluip ek by die kamer uit. As ek die alarm deaktiveer knyp ek my oë toe en hoop die beep-beep-beep maak niemand wakker nie.


“'n Wyse vrou sorg vir haar huis; 'n vrou sonder wysheid breek alles af.”

‭‭SPREUKE‬ ‭14:1‬ ‭

Ek stap kombuis toe, maak seker die kosblikke is reg vir skool. Maak waterbottels vol en sit die ketel aan. Dan kry ek die pap bakkies uit en kry als reg vir ontbyt. As my bakkie oats en my koppie koffie gemaak is, gaan ek sit.


Ek kyk op my horlosie, 06:00. Daar is nog 15 minute oor voordat ek die troepe moet gaan wakker maak.


15 minute van vrede

15 minute van stilte

15 minute van rustigheid

15 minute van droom

15 minute van ontspan

15 minute van afskakel

15 minute van warm koffie drink

15 minute waarin ek ons kerk se oggend oordenking kan luister en bid.

My 15 minute…net myne…saam met die Here.


Party oggende gebeur dit wel dat ek ‘n klein stemmetje hoor roep voordat ek my 15 minute gehad het… dan kreun my hart bietjie. Maar as ek daardie dik geslaapte ogies sien wat knip-knip in die skerp lig, dan klop my hart sommer vinniger, dan verander die my-tyd in Mamma-wees-tyd en dis okay, hulle is my lewe!


en dan begin die oggend chaos….

Dit maak nie saak hoe vroeg ek hulle wakker maak nie, dit word ‘n gejaag..

Ek wens partymaal ek kan myself verdeel in ‘n paar mini-mamma-weergawes wat op elke kind se skouer kan sit en die heeltyd in hul oor fluister: vat ‘n happie asb, (een minuut later) vat ‘n happie asb (een minuut later) vat ‘n happie asb?

Alles vat ’n ewigheid… eet, aantrek, tandeborsel, hare kam, tasse pak, skoene aantrek.


Ek moet ook noem dat my kinders nog klein is, so ek moet help aantrek, help tandeborsel, help eet, terwyl ek nog self darem ook moet regmaak sodat ek ten minste oraait lyk as ek by die skool uitklim.


Party oggende verloop dit redelik glad en op tyd, maar dan kry jy die oggend waar dit net chaos is vandat die ogies oopgaan… en voor ek myself kan keer, raas ek, sê tien keer ons gaan laat wees (dit val natuurlik op dowe ore) en jaag hulle aan…


Maar dan…


Tussen die chaos deur, sit ons vir ‘n paar minute saam en word stil om saam oggend Godsdiens te doen.


Pappa lees uit die Bybel , ons praat oor wat ons gelees het en daarna sing ons so twee Psalms. Ons sluit af met gebed.

Vir daardie paar minute is die chaos bietjie minder en vra ons vir krag vir die dag.


Hierdie stilte tyd, neem plus minus 15 minute. 15 minute wat ons minder het om reg te maak. Maar wonder bo wonder veroorsaak hierdie 15 minute stilte tyd nie meer chaos nie, dit maak ons nie meer gejaagd nie, dit laat ons nie meer ongeduldig nie.


Nee, inteendeel…. Ons almal is rustiger, ons almal fokus beter op dit wat gedoen moet word, ons baklei minder, ons jaag minder, ons is meer geduldig, die chaos is minder…


“Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.”

‭‭PSALM ‭37:3‬ ‭


Partykeer gebeur dit wel dat ons nie hierdie 15 minute van stilte tyd het nie en dan sien en ervaar ek die verskil. Dan is die raas, gejaagdheid en ongeduld meer en kort voor lank is iemand in trane.. (partykeer selfs mamma)


Logies maak dit tog nie sin nie. Daardie 15minute wat ons minder het om klaar te maak, maar eerder inruim vir God se Woord, gee vir ons “meer tyd” in terme van minder chaos!

Dit is soveel makliker om kinders by die skool te groet as ons ‘n kalm oggend gehad het, teenoor trane, ongeduld en frustrasies…


15 minute kan die verskil maak…


15 minute saam met jou gesin aan die voete van Jesus.
“… Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

‭‭JOSUA‬ ‭24:15‬ ‭



Vir elke mamma wat al so gevoel het, soek ‘n geleentheid van 15 minute vir jouself . Skep vir jou die geleentheid vir asemhaal en warm koffie drink. (iewers deur die dag)


Maar nog meer belangrik maak tyd saam met jou huisgesin vir die Here. Vergader om Sy Woord! (Maak dit deel van jul roetine)


Weet ook as jy ‘n oggend vol chaos gehad het, jy is nie alleen nie. Ek dink dit gaan amper so woes in elke huis met klein asempies…

Weet ook jou bloeitjies gaan okay wees.. so tussen die chaos deur!


Eendag gaan jou huis stil wees, elke ding op sy plek, met ‘n rustige perfekte roetine, warm koffie, warm ontbyt en dalk sommer ‘n warm bad ook…. Die perfekte prentjie….maar is dit perfek as ons kleintjies die nes verlaat het? Dan kyk ons terug en wens hulle was nog klein, wens hul kon nog op jou skoot pas, wens vir daai dik geslaapte ogies, wens vir daai stemmetje wat “Mamma” roep.


Arlene Pellicane sê in haar boek: “Parents rising.” Vanaf jou kind se geboorte tot sy/haar 18de verjaarsdag, is daar slegs 936 weke.


Net 936 weke om hulle te leer en ‘n voorbeeld te wees en tyd saam te spandeer en hulle van die Here te leer. Dan is hulle groot…


Elke 15 minute tel…!!!

Tyd saam met die Here deur Sy Woord is die enigste manier om Hom beter te leer ken. Alleentyd saam met die Here.. Gesinstyd saam met die Here. Eredienste en Bybelstudies. Ons moet tyd maak vir die Here in ons alledaagse roetine…


lewer kommetar
bottom of page