top of page

Vra ek net, of gee ek ook?



Deur die vlekke op my kombuisvenster sien ek hulle baklei. Ek hoor die afbrekende woorde en voel die weerligstraal van woede in my losbreek. Dit slaan neer toe ek briesend tussen beide tree. My stem donder terwyl my woorde oor hulle koppe losbars. “Hou op!”, dreun dit. Dit dreig selfs: “ ‘n Pakslaag, as julle nie ophou nie”. Ten einde laas, slaan my hand tóg roekeloos neer.


Die volk het weer gekla by Moses: “Daar is geen water om te drink nie” (Num 20:5). Toe het Moses se woede neergeslaan op ‘n rots en sy stem het gedonder. Daarna is hy swaar gestraf.


Wat wil ek bereik in daardie oomblikke van woede? Wat wou Moses bereik deur te slaan en te bulder? Hoekom het die Here hom so swaar gestraf?


Moeilike vrae dryf my tot verwarring, maar tog kom die antwoorde altyd in lae van begrip.

God het Israel vryheid gegee vóórdat Hy gehoorsaamheid gevra het. Jesus maak ons met Sy liefde vry en bind dan eers ons harte met Sy nuwe orde. Vir ons voel dit soos ‘n agterstevoor manier van doen, maar God weet dat dit net genade en aanvaarding is wat ons in staat stel om met die sonde te breek.


Daar staan ‘n leë emmer langs my bed. Van die oomblik dat my voet die grond tref probeer ek dit vul met allerhande dinge wat my hart begeer: ‘n skoon huis, aansien, mooi dinge, maar veral gehoorsame kinders... Dit plof geluidloos neer as ek dit ingooi.


Christus het eens op ‘n tyd Sy emmer vol heerlikheid ontledig. Meer nog, Hy het Homself ontledig en gebreek sodat ander kan ontvang. Daardeur het Hy ontvang: verhoging en ‘n Naam bo elke naam. (Fil 2:6-11)


Kan ek my emmer vul sonder om self oor te gee en te breek? Sonder om my wil op te gee en te voel hoe my hart breek as hulle weer baklei?


Dit gebeur as ek in die oomblik van vurige vonke intree en gee. Met ‘n diep asemteug tel ek my peuter op. My hand rus op my kleuter se kop.


“Gee my Here sodat ek die onlosmaakbare kan skenk: genade én eis.”

God vra nooit sonder om ook te gee nie. Die Heilige van Israel wou Sy volk uit die rots Christus laat water drink sodat hulle Sy heilige genade smaak en verander. Moses het in die pad daarvan gestaan.


Is ek ‘n struikelblok in die pad van Christus se genade na my kinders toe? Bring ek ook Sy genade en seën of net eise en vloek?


My emmer staan nogsteeds langs my bed. Ek gee op, ek wil dit nie meer self vul nie. Na Christus toe gaan ek, sodat Hy lewende water kan intap. Sy Woord, Sy liefde, Sy trou vul my tot oorlopens toe. Sy goedertierenheid en barmhartigheid is elke môre nuut (Klaagliedere 3:22-23).


Met my vol emmer loop ek deur die huis en maak ander emmertjies vol. In oomblikke waar tugtiging nodig is onthou ek om ook te gee terwyl ek aanspreek.


Die peuter word op my skoot getel en ek vertel vir hom die storie van die Herder wat vir Sy skapies genoeg gee, ook al dink die skapies hulle moet vir hulself sorg.


Vir die kleuter fluister ek dat Hy mos duur gekoop is en aan Iemand anders as homself behoort.


Die jong dogter kry ‘n drukkie terwyl ek haar herinner dat Hy haar wil verander.


Die amper-tiener se oë sien ek raak, ek luister en roep haar op om na Jesus te gaan sodat Sy in Hom kan ontvang waarna sy so smag.


Is dit dooie teologiese klanke? Ja miskien as dit net van my woorde af gehang het.


My hande is oop: “Here, gee U seën, sodat my woorde ‘n seën kan wees waardeur U genade neerstroom en dorre harte omskep kan word in vrugbare aarde.”


Lientjie Drijfhout

2020


Vir skrifuitleg van Numeri 5 (Moses slaan die rots), lees gerus ds. Hannes Breytenbach se preek. Hier volg die skakel:


lewer kommetar
bottom of page